Hier is die verskillende ontwikkelingspunte waarna gekyk kan word in `n kind se ontwikkeling:

Fynspiere (vingerspiere, handspiere, gewrigte oefeninge, voetspiere, mondspiere, gesigspiere)

Grootspiere (maagspiere, skouerspiere, beenspiere, koördinasie, bilaterale oefening, midlynkruising en dominasie)

Perseptuel (visueel, ouditief, taktiel, olfatories, smaak, propriosepsie en vestibulêre sisteem)

Wiskunde (Ruimtelike oriëntasie (links/regs/voor/agter), probleemoplossings, getalbegrip, vormkonstantheid, volume, meting)

Taal (Begin/middel/eindklanke, lettergrepe, woordeskat (ekspressief/reseptief), klank herkennig, klank vaslegging, sinskonstruksie, artikulasie (uitspraak van klanke)

Emosionele ontwikkeling

Sosiale ontwikkeling

Visuele Persepsie:

VISUELE DISKRIMINASIE: Hierdie is die vermoë om visuele inligting vinnig en akkuraat te interpreter en om ooreenkomste en verskille tussen visuele beelde te kan onderskei. Dit stel die leerder in staat om later tussen verskillende letters en syfers te kan differensieer.

VORMHERKENNING: Vormherkenning behels die herkenning van verskil-lende geometriese vorms asook die vermoë om hulle korrek oor te teken.

VOORGROND/AGTERGROND- ONDERSKEIDING: Voorgrond-/Agtergrondonderskeiding is die vermoë om te fokus op ‘n spesifieke voorwerp, letter of syfer teen sy agtergrond

GESTALT: Dit behels die vermoë om ‘n voorwerp as ‘n geheel of as eenheid  te sien in plaas van aparte onderdele. Dit dra by tot ‘n meer akkurate kort- en langtermyn-geheue, asook die herkenning van letters en syfers.

VISUELE GEHEUE: Visuele geheue is die vermoë om visuele beelde te onthou en te herroep in die kort en langtermyn-geheue soos waargeneem deur die leerder.  Hierdie vaardigheid is baie belangrik in die proses van leer lees.

VISUELE OPEENVOLGING: Dit is die rangskikking van voorwerpe in ‘n logiese volgorde om ‘n herhalende patroon te vorm. Hierdie vaardigheid versterk lees, skryf en spelling.

VISUELE FOKUS: Die vermoë om die korrekte paadjie te kies en voltooi sonder om aan die kante te raak.

Ouditiewe Persepsie

OUDITIEWE DISKRIMINASIE: Dit is die vermoë om die ooreenkomste en verskille in klanke te kan onderskei. Die vermoë om woorde te identifiseer wat dieselfde en verskillend klink vorm ook deel van diskriminasie. Spelling, lees en skryf word hierdeur versterk.

OUDITIEWE GEHEUE: Dit behels die vermoë om inligting te stoor en herroep wat verbaal gegee is. Gefokuste luister is die vermoë om te fokus op ‘n spesifieke klank. Die vaardigheid verg oefening.

OUDITIEWE STORIE GEHEUE: Volgorde en besonderhede van gebeure is belangrik.

OUDITIEWE OPEENVOLGING: Dit is die vermoë om die volgorde van items in ‘n lys of klanke in volgorde  te onthou en dit dan weer te herkonstrueer.

OUDITIEWE VOORGRONG/AGTERGROND: Die vermoë om nie afgelei te word deur agtergrond-geluide in die klassituasie is belangrik.

OUDITIEWE ANALISE EN SINTESE: ANALISE is die vermoë om woorde op te breek in kleiner dele asook om sekere klanke te kan herken. SINTESE is die vermoë om klanke of woorde saam te voeg om ‘n nuwe woord of sin te maak k+a+t = kat

Ruimtelike Oriëntasie/Propriosepsie:

PROPRIOSEPSIE:

POSISIE IN DIE RUIMTE 3D: Dit is die vermoë om ‘n persoon se liggaam en sy dele korrek te lokaliseer ten opsigte van die omgewing rondom die persoon op 3D vlak.

MIDLYNKRUISING: Dit is die vermoë om die eenkant van die liggaam om te oorkruis na die ander kant van die liggaam deur die middellyn te kruis.  Dit impliseer ook dat die kind se ontwikkeling op die punt is waar die regter- en linkerbrein in tandem kan werk.